Die Tafels van Besoeking (#3223)

*Hierdie Tafel by die Heiligdomme van Bahá'u'lláh en die Báb gelees. Dit word ook dikwels gebruik om Hulle jaardae te gedenk.

 

Die lof wat van U verhewenste Self opgegaan het, en die heerlikheid wat uit U luisterrykste Prag geskyn het, rus op U, o U Wat die Openbaring van Grootheid is, en die Koning van die Ewigheid, en die Here van almal wat in die hemel en op aarde is! Ek getuig dat deur U die oppermag van God en Sy heerskappy, en die majesteit van God en Sy grootheid geopenbaar is, en die Dagsterre van oue luister hulle glans in die hemel van U onherroeplike verordening gewerp het, en die Prag van die Ongesiene bo die horison van die skepping geskyn het. Ek getuig, bowendien, dat met slegs 'n beweging van U Pen U opdrag ,Wees U' uitgevoer is, en God se verborge Geheim onthul is, en alle geskape dinge in die lewe geroep is, en al die Openbarings laat daal is.

Ek getuig, bowendien, dat deur U prag die prag van die Vereerde Een ontsluier is, en deur U gelaat die gelaat van die Begeerde Een geskyn het, en deur 'n woord van U, U tussen alle geskape dinge besluit het, waardeur diegene wat aan U toegewy is na die kruin van heerlikheid opgestyg het, en die ongelowiges in die diepste afgrond geval het.

Ek getuig dat hy wat U geken het God geken het, en hy wat U teenwoordigheid bereik het, die teenwoordigheid van God bereik het. Groot is dus die geluksaligheid van hom wat in U en in U tekens geglo het, en homself voor U oppermag verootmoedig het, en geëer is om U te ontmoet, en die welbehae van U wil bereik het, en rondom U beweeg het, en voor U troon gestaan het. Wee hom wat teen U oortree het, en U verloën het, en U tekens verwerp het, en U oppermag weerspreek het, en teen U opgestaan het, en voor U aangesig hoogmoedig geword het, en U getuienisse betwis het, en van U gesag en U heerskappy gevlug het, en met die ongelowiges saam gestel is, wie se name deur die vingers van U opdrag op U heilige Tafels gegraveer is.

Waai dan, na my toe, o my God en my Beminde, uit die regterhand van U genade en U vriendelike goedheid, die heilige adems van U gunste, dat hulle my van myself en van die wêreld na die voorhowe van U nabyheid en U teenwoordigheid mag trek. Sterk is U om te doen wat U behaag. U was waarlik oppermagtig oor alle dinge.

Die aandenking aan God en Sy lof, en die heerlikheid van God en Sy luister, rus op U, o U Wat Sy Prag is! Ek getuig dat die oog van die skepping nog nooit op 'n veronregte een soos U getuur het nie. U was gedurende al die dae van U lewe onder 'n oseaan van beproewinge versonke. Daar was 'n tyd dat U in kettings en boeie was; op 'n ander tyd was U deur die swaard van U vyande bedreig. En tog, nieteenstaande dit alles, het U op alle mense 'n beroep gedoen om dit te onderhou wat aan U deur Hom Wat die Alwetende, die Alwyse is, voorgeskryf was.

Mag my gees 'n offer wees vir die onregte wat U gely het, en my siel 'n losprys vir die teenspoede wat U verduur het. Ek smeek God, by U en by hulle wie se gesigte verlig is deur die luister van die lig van U gelaat, en wat, uit liefde vir U, alles nagekom het wat hulle beveel is, om die sluiers te verwyder wat tussen U en U skepsels gekom het, en om my te voorsien van die goeie van hierdie wêreld en die wêreld wat kom. U is, in der waarheid, die Almagtige, die Verhewenste, die Alglorieryke, die Altyd-Vergewende, die Barmhartigste.

Seën U, o Here my God, die Goddelike Lotusboom en sy blare, en sy takke, en sy lote, en sy stamme, en sy spruite, solank U voortreflikste titels sal bly bestaan en U verhewenste eienskappe sal duur. Beskerm dit dan teen die onheil van die aanvaller en die skares van geweldenary. U is, in der waarheid, die Almagtige, die Kragtigste. Seën U, ook, o Here my God, U diensknegte en U diensmaagde wat U bereik het. U is, voorwaar, die Almilddadige, Wie se genade oneindig is. Geen God is daar behalwe U nie, die Ewig-Vergewende, die Vrygewigste.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Tafels van Besoeking (#3224)

*Hierdie gebed, deur 'Abdu'l-Bahá geopenbaar, word by Sy Heiligdom gelees. Dit word ook by private gebed gebruik.

*Wie ook al hierdie gebed met nederigheid en geesdrif sê, sal blydskap en vreugde aan die hart van hierdie Dienaar bring; dit sal selfs wees soos om Hom van aangesig tot aangesig te ontmoet.

Hy is die Alglorieryke!

O God, my God! Verootmoedig en betraand, hef ek my smekende hande op na U en bedek ek my gesig met die stof van daardie Drumpel van U, verhewe bo die kennis van die geleerdes, en die lof van almal wat U verheerlik. Kyk genadiglik op U dienaar, nederig en verootmoedig voor U deur, met die blikke van die oog van U genade, en dompel hom in die Oseaan van U ewige guns.

Here! Hy is 'n arm en nederige dienaar van U, gekluister en smeek U, 'n gevangene in U hand, bid U inniglik, vertrou in U, in trane voor U aangesig, roep na U en smeek U, en sê:

O Here my God! Gee my U genade om U bemindes te dien, versterk my in my diensbaarheid aan U, verlig my voorhoof met die lig van verering in U hof van heiligheid, en van gebed aan U Koninkryk van grootheid. Help my om selfopofferend by die hemelse ingang van U poort te wees, en staan my by om van alle dinge binne U heilige voorhowe afgesonder te wees. Here! Gee my te drink van die beker van onselfsugtigheid; kleed my met sy gewaad, en dompel my in sy oseaan. Maak my soos stof in die weg van U geliefdes, en gee dat ek my siel mag opoffer vir die aarde veredel deur die voetstappe van U uitverkorenes in U weg, o Here van Heerlikheid in die Hoogste.

Met hierdie gebed roep U dienaar U by die aanbreek van die dag en in die nagtyd. Vervul die verlange van sy hart, o Here! Verlig sy hart, verbly sy boesem, steek sy lig aan, sodat hy U Saak en U dienaars mag dien.

U is die Skenker, die Jammerhartige, die Mees Milddadige, die Liefderyke, die Genadige, die Medelydende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

